Sukkel jy met hare wat vinnig olierig word en plat en leweloos lyk? Hiér is raad en oplossings om finaal klaar te speel met olierige haarwortels.
Elke haar op jou kop bevat oliekliere wat sebum (natuurlike olie) vervaardig en só sorg dat jou hare bevog is en ’n gesonde glans het. Soms vervaardig dié kliere te veel olie en veroorsaak dat jou haarwortels vinniger olierig is en vuil lyk.
Ja, spinnekopwimpers is weer in die mode!
Wat veroorsaak oortollige olie by jou haarwortels?
1. Jou haartipe en -tekstuur
Hare wat natuurlik fyn en reguit is, is geneig om vinniger olierig te word omdat die olie wat deur jou kopvel vervaardig word vinniger teen die reguit lengtes van jou hare af versprei. Jou hare voel dan swaar en lyk plat en leweloos.
Oplossings:
• Kyk uit vir haarprodukte met ’n ligte tekstuur (dié produkte het dikwels ’n deursigtige formule), maar wat steeds voedende bestanddele bevat.
• Moenie jou hare te veel borsel nie omdat dit die olie van jou haarwortels nog meer deur die res van jou hare sal versprei. Kam jou hare eerder met ’n wyetand-kam uit, verkieslik wanneer dit nog nat is.
Probeer: Dove Oxygen Moisture Shampoo en Conditioner (R70 elk)


Kan dié haarborsel jou hare vinniger laat groei?
2. Jou haarsorgroetine en -produkte
Jou daaglikse haarsorgroetine en die produkte wat jy gebruik kan ook die oorsaak wees van haarwortels wat baie vinnig olierig word.
Oplossings:
• As jou hare vinnig olierig word, is jy geneig om dit daagliks te was. Soms kan dít egter veroorsaak dat jou kopvel net nog meer olie vervaardig omdat jou sjampoe met elke was jou hare van natuurlike olies stroop. Moet daarom nooit jou hare meer as een maal ’n dag was nie.
• Probeer om eerder jou hare elke tweede dag te was en tussen wasdae ’n droë sjampoe te gebruik om oortollige olie te absorbeer.
• As jou hare dikwels vinnig olierig word by die haarwortels, maar droog is by die haarpunte, gebruik ’n ligte opknapper of inbly-opknapper net op jou haarpunte. Droë olies is ook perfek hiervoor omdat dit jou haarpunte intens voed en bevog sonder dat dit jou haarwortels swaar of olierig laat.
Probeer: Batiste Dry Shampoo in Cherry (R70 vir 200 ml, by Clicks) en Schwarzkopf BC Bonacure Hairtherapy Oil Mist for Fine to Normal Hair (R260, by uitsoeksalonne)


3. Erge olierigheid gepaard met skilfers
’n Mengsel van vetterige olieklier-afskeiding en dooie velselle op jou kopvel kan olierigheid, skilfers en ’n jeukerige kopvel tot gevolg hê. Dit gebeur gewoonlik wanneer jou hare en kopvel vuil is as gevolg van die verkeerde of ongereelde gebruik van sjampoe. In sommige gevalle kan stres ook dié toestand vererger.
Oplossings:
• Wanneer jy jou hare was, maak seker jy spoel jou sjampoe deeglik uit jou hare uit.
• Vermy ryk en romerige haarstileringsprodukte wat moeilik is om uit jou hare te verwyder. Buiten dat dit jou hare meer olierig kan maak, kan onsuiwerhede en die produkte se bestanddele oor tyd opbou en jou kopvel begin irriteer.
• Moenie ’n droë sjampoe meer as twee dae na mekaar gebruik sonder om jou hare te was nie. Hoewel dit olierigheid absorbeer, verwyder dit nie noodwendig vuilheid nie.
• Ernstiger oorsake van olierigheid en skilfers sluit ekseem, seborree-dermatitis en die ontsteking van jou kopvel in. In dié gevalle is dit beter om jou dokter te besoek.
Probeer: Vichy Dercos Sebo-Corrector Treatment Shampoo (R185, by Dis-Chem en uitsoek-apteke)
Steek jou olierige wortels weg met ’n slim haarstyl – hiér wys ons jou hoe!
Bronne: www.livestrong.com, www.schwarzkopf.com, www.womenshealthmag.com
Lees nou
The post Raad vir olierige hare appeared first on SARIE.