Ná die ysige naweek is die winter beslis hier! Maar moenie dat die koue, grys weer jou onderkry nie. Wat van ’n winter-oormaaksessie met ’n splinternuwe haarkleur? Dié drie haarkleur-trends is tans groot.
1. Mat bruin
Die afgelope paar jaar was haarkleur wat ryk is aan skakering en dimensie ’n groot haarkleur-tendens. Deesdae verkies al hoe meer vroue om hul hare eerder ’n enkele donkerbruin skakering te kleur met min of geen ligstrepe in nie, sê Boyd Meilhon, meesterstilis en instrukteur by die haarsalongroep Carlton Hair International. “Dit lyk dan amper asof die hare ’n mat-afwerking het en is supersjiek.” Die tendens is veral by vanjaar se Met-gala gesien met bekendes soos Rihanna en Kim Kardashian wat met so ’n eenvoudige bruin haarkleur gespog het.
Rihanna
Kim Kardashian
2. Romerige platinumblond
Hoewel platinumblond ook weer ’n oomblik in die kollig geniet, is dit nie ’n haarkleur wat noodwendig by almal pas nie. ’n Romerige platinumblonde haarkleur met effense wit en goue skakerings is daarom ’n goeie alternatief vir blondines dié winter. Dis nuut en jeugdig en pas boonop by die meeste velkleure.
Katy Perry
Karlie Kloss
3. Blorange
Blorange is ’n mengsel van blond en oranje. “Die skakering is nou baie gewild omdat dit ’n kleur is wat nog nooit vantevore gesien is nie,” sê Boyd. Die skakering kombineer hoofsaaklik blond en oranje vir ’n vars en moderne haarkleur en kan skynsels van roospienk, koper en goud hê. Dis boonop vleiend vir alle velkeure omdat die kleur ’n warm ondertoon het.
Emma Roberts
As blorange vir jou net te helder is, probeer sagte en subtiele skynsels van rooi in jou haarkleur.
Selena Gomez
Lees nou
Só vind jy die regte onderlaagskakering
Skoonheidswêreld se nuwe móét-hê-lipproduk
The post Dié seisoen se 3 grootste haarkleur-modes appeared first on SARIE.