Die plaaslike sangeres Nádine is pas terug in SA nadat sy die afgelope paar weke in Nieu-Seeland getoer het as lid van die geselskap vir die musiekblyspel Joseph and The Amazing Technicolor Dreamcoat. Ten spyte van lang, besige dae en baie verhooggrimering lyk haar vel steeds fantasties. Ons het by haar gaan hoor wat haar velsorggeheim is …
In die gewilde musiekblyspel is Nádine in haar rol as verteller byna heeltyd op die verhoog. Sy erken dit het sy tol geëis op haar vel. “Die afgelope ses maande show ek basies sewe dae per week. En omdat ek dag ná dag baie swaar verhooggrimering dra en lang tye onder warm verhoogligte deurbring, kan my porieë maklik verstop raak en my vel vaal en moeg lyk en geïrriteerd voel.”
Buiten behoorlike reiniging is dit daarom vir haar baie belangrik om haar vel gereeld af te skilfer. “Ek gebruik gereeld ’n korrel-afskilferaar ná vertonings. Dit werk baie goed om dooie velselle en enige ander vuiligheid te verwyder vir ’n silwerskoon vel.” Dit laat jou vel ook dadelik gladder lyk.
Sy vertel sy hou veral van velsorgprodukte van Dermalogica omdat dit geurvry is en geen bestanddele bevat wat jou vel sal irriteer nie. “As gevolg van die baie grimering wat ek dra, is my vel geneig om sensitief te voel en dan is dit lekker om produkte te gebruik wat sag en strelend op my vel is.”
En as sy die dag ’n puisie kry? “Ek probeer dan juis om nie te veel aan my vel te karring nie omdat dit net die breakout meer sal irriteer.” Soms sal sy ook haar gesig stoom (of in ’n stoomkamer in die gimnasium gaan sit) om haar porieë oop te maak en van onsuiwerhede ontslae te raak.
Skilfer só met ’n korrel-afskilferaar af:
1. Jy gebruik ’n korrel-afskilferaar gewoonlik op ’n vel wat nog nat is nadat jy jou gesig gewas het. Vryf dit ’n paar sekondes lank met ligte sirkelbewegings oor jou gesig voordat jy dit afspoel. Vermy die fyn vel om jou oë.
2. Gebruik ’n korrel-afskilferaar net so twee of drie keer per week. As jy te veel afskilfer, kan dit jou velwand beskadig.
3. Maak seker die korrels in die produk is nie te grof nie. Toets ’n paar produkte in die winkel op jou hand en kies een wat sag op jou vel voel.
Vermy ’n korrel-afskilferaar as jy …
… met velprobleme soos rosacea en ekseem sukkel. Dit kan die probleem net vererger.
Probeer dié produkte:
Lees nou
Lily Collins se 7 mooiste haarstyle by Cannes
6 grimeertruuks vir jonger lyk
The post Nádine se geheim vir ’n gladde, stralende vel appeared first on SARIE.