Pigmentasie is een van Suid-Afrikaanse vroue se grootste velbekommernisse. Ja, dis lankal nie net meer lyntjies en plooie wat jou ouer laat lyk nie. Kenners meen ’n onegalige velkleur kan tot tien jaar by jou ouderdom voeg! Gelukkig is daar verskeie slim-produkte waarmee jy donker vlekke kan behandel.
Dié bruin oneweredige vlekke is die gevolg van klein tentakelagtige selle (melanosiete) aan die onderkant van jou vel se epidermis, wat ’n donker pigment, melanien, afskei. Soms, weens verskillende faktore, word hierdie selle oorstimuleer en vervaardig dit meer melanien as normaalweg. Soos wat die pigment na jou vel oppervlak beweeg, word donker vlekke sigbaar.
Dit is een van die moeiliker velprobleme om te takel. Maar met die regte kombinasie van velsorgprodukte en behandelings kan jy ’n helderder en jonger vel bereik.
1. Sonskerm is ’n móét.
Die goue reël om verdere donker vlekkies en pigmentasie te voorkom is om daagliks ’n goeie sonskerm met ’n SBF van minstens 30, winter en somer, te gebruik. Maak ook seker jou sonskerm beskerm jou vel teen UVA- én UVB-strale.
Het jy geweet?
Melanien werk soos ’n natuurlike sonskerm vir jou vel. Wanneer die son jou vel gereeld brand, word meer van die pigment afgeskei en dít veroorsaak donker vlekke. Die vlekke absorbeer UV-lig sodat dit nie die selle in die dieper deel van jou vel beskadig nie.
2. Maak ’n velsorgproduk wat vitamien C bevat deel van jou velsorgroetine.
Vitamien C is ’n kragtige antioksidant wat help om donker vlekke te vervaag. Dit maak ook jou vel meer bestand teen sonblootstelling. Wend ’n vitamien C produk soggens aan vóór jou vogroom en sonskerm.
3. Belê in ’n afskilferingsproduk.
Soos jou vel nuwe selle vorm, beweeg dooie selle na die oppervlak. Hoewel jou vel natuurlik van hierdie selle ontslae raak, word dié proses al hoe traer soos ons ouer word. Deur gereeld af te skilfer raak jy van die dooie selle ontslae en dit help om hiperpigmentasie en donker vlekke oor tyd ligter te maak.
4. Kyk uit vir produkte met die woorde brightening of lightening op die verpakking.
Buiten vitamien C is daar ’n magdom ander bestanddele wat jou vel verhelder en meer egalig laat lyk deur die voorkoms van donker vlekke en pigmentasie te verbeter. Kyk uit vir bestanddele soos vitamien B3 (ook bekend as niasienamied), vitamien A (retinol), melksuur en liquorice-ekstrak.
Minki van der Westhuizen het al vertel dat pigmentasie ook een van haar grootste velsorgkwessies is. Lees hiér meer.
5. Verbloem met ’n CC-produk.
Jy het seker al van Colour Correcting (CC) produkte gehoor. Basislae en verbloemers wat geel gekleur is help om enige ligte bruin, pers of blou dele op jou vel te neutraliseer en werk perfek as jy ’n ligte gelaat met donker vlekke het.
Probeer dié top-produkte:
Lees nou
Kate Middleton sny haar lokke!
5 moeitelose haarstyle sonder hitte
The post Gebruik dié produkte vir pigmentasie en donker vlekke appeared first on SARIE.