Klapperolie is al ’n hele ruk een van die wêreld se grootste obsessies! En nie net in kos nie. Bekendes soos Emma Stone, Gwyneth Paltrow, Chrissy Teigen en ons eie Angelique Gerber gebruik klapperolie vir enigiets van grimeerverwyderaar en lipbalsem tot mondspoelmiddel. Ja, selfs in jou skoonheidsroetine verdien klapperolie ’n ereplek. Kyk net wat jy alles daarmee kan doen om jou hare, lyf en gesig mooi te hou …
Klapperolie is uitstekend om jou hare en lyf te bevog. Dis ’n natuurlike olie (afkomstig van die kokosneut) en bevat ’n hoë konsentrasie omega 3- en 6-vetsure, vitamien E en antioksidante. Dit het ook antibakteriële eienskappe, wat dit geskik maak vir vel met ekseem of ’n veluitslag. Boonop is klapperolie solied by kamertemperatuur, wat maak dat jy dit maklik kan inpak wanneer jy reis. Verhit dit in die mikrogolf of vryf dit tussen jou hande om dit vloeibaar te maak voordat jy dit gebruik.
Vir jou gesig
1. Nagroom
Die Afrikaanse aktrise Angelique Gerber is mal oor klapperolie. “Ek meng dit graag met ’n organiese vogroom en gebruik dit daagliks op my gesig. Dit help om my droë vel goed bevog en soepel te hou.” Klapperolie vul jou vel se lipiedlaag aan, wat jou velwand versterk sodat vog nie so maklik ontsnap nie. Dit streel ook ’n sensitiewe vel en kalmeer rooiheid en jeukerigheid.
2. Grimeerverwyderaar
Die model Chrissy Teigen gebruik klapperolie om hardnekkige grimering soos maskara en oogomlyner in ’n kits te verwyder. Sy sit ’n bietjie klapperolie op ’n watte en vee daarmee oor haar oë. Omdat grimering gewoonlik ’n oliebasis het, bind dit met die klapperolie-molekules en gly maklik van jou gesig af. Lees hiér meer oor oliereinigers vir jou gesig!
3. Verligter
Gebruik klapperolie sommer as ’n verligter deur ’n klein bietjie liggies op jou wangbene en in die binnehoeke van jou oë te tik nadat jy grimeer het. Dit laat jou vel lyk asof dit van binne gloei.
Vir jou lyf
4. Lyfskrop
Die Hollywood-aktrise Jessica Alba vertel dat ’n mengsel van jogurt, gemaalde koffie en klapperolie ’n goeie gesig- en lyfmasker maak wat jou vel afskilfer en bevog. “Ek’s mal daaroor omdat jy al dié bestanddele in jou kombuis het en jy kan dit net bymekaargooi en jou eie skoonheidspa skep!”
5. Skeerroom
Jy kan selfs klapperolie gebruik wanneer jy jou beenhare skeer. Smeer dit pleks van skeerroom oor jou droë bene aan voor jy skeer.
6. Kutikelolie
Wend klapperolie op jou naelvelletjies aan om dit te versterk en gesond te hou. Vryf ook jou voete met klapperolie in nadat jy dit met ’n voetvyl afgeskuur het. Die antibakteriële eienskappe help om voete gesond en sag te hou.
Vir jou hare
7. Ekstra vog
Nog ’n Hollywood-aktrise, Blake Lively, het al vertel sy wend klapperolie op haar haarpunte aan voordat sy dit was. Dan maak sy haar klam hare in ’n bolla vas. Sodra dit droog is, maak sy dit los. Die bietjie olie wat ná die was op haar haarpunte agterbly, sorg vir haar kenmerkende mooi golwe en seël die haarkutikels sodat vog behoue bly.
En nog …
8. Mondspoelmiddel
Jy kan dit selfs as ’n mondspoelmiddel gebruik! Deur gereeld jou mond vir sowat 10 minute met ’n eetlepel klapperolie te spoel, verminder jy die opbou van plaak en bakterieë in jou mond. Dit sorg vir gesonder tande en tandvleise en ’n varser asem. Spoel jou mond agterna met warm water uit.
Bronne: www.usmagazine.com, www.marieclaire.com, www.huffingtonpost.com
Lees nou
Donnalee Roberts deel haar mooilyk-gewoontes
Kan jy dít met ’n avokado doen?
The post 8 skoonheidstruuks met klapperolie appeared first on SARIE.