Danksy die warmer weer het baie van ons nuwe motivering om meer te oefen. En dikwels oefen ons sommer met ons grimering aan. Pasop, dit kan jou vel erg skade aandoen!
Jou grimering meng met jou sweet terwyl jy oefen en kan maklik jou porieë verstop, sê Sonette Donker, velsorgkenner van die kliniek Skin ID in Johannesburg. Dit veroorsaak swart- en witkoppies op jou gesig wat oor tyd kan lei tot erge velprobleme. Jou vel kry ook nie kans om behoorlik van onsuiwerhede ontslae te raak nie, wat dit moeg en geïrriteerd laat.
“Ek vind ook dat baie vroue wat my salon besoek, sukkel met groot rooi en seer knoppies naby hul ore, teenaan hul haarlyn en onder hul kakebeen en ken. Dis omdat ons geneig is om dié dele te mis wanneer ons tydens en ná oefening ons gesig met ’n gesiglappie afvee. Sweet, ou grimering en vuiligheid bou dan hier op.”

FOTO: Unsplash
Die belangrikste is om so gou as moontlik nadat jy geoefen het, jou gesig goed skoon te maak. Sonette se raad is om jou reiniger vir minstens twee minute oor jou gesig te masseer om seker te maak al die olie en onsuiwerhede word behoorlik opgelos en verwyder. “Of jy kan jou gesig twee keer ná mekaar reinig en afspoel,” sê sy.
Volg ook dié wenke:
- Hou ’n pakkie gesiglappies in jou gimsak en vee jou grimering daarmee af net voordat jy begin oefen. Bevog dan jou vel met ’n ligte vogroom of selfs ’n serum.
- Wend altyd ’n goeie sonskerm met ’n hoë SBF aan as jy in die buitelug gaan oefen.
- Kies ná die tyd ’n reiniger wat ook jou gesig liggies afskilfer. Soek vir ’n produk wat bestanddele soos vrugtesure en klei bevat, sê Sonette.
- Dis ook ’n goeie plan om elke nou en dan ’n paar minute in die gim se stoomkamer te gaan sit. Die hitte help om jou porieë oop te maak sodat dit makliker van vuiligheid en onsuiwerhede ontslae kan raak.
- As jy voel jy het ’n bietjie bedekking op jou vel nodig, kies dan ’n goeie mineraal-onderlaag (grimering wat nie preserveermiddels bevat nie), sê Sonette. Dit bevat die minste skadelike bestanddele en sal jou vel minder irriteer.
Kies dié produkte vir jou gimsak:
1. Nivea Perfect & Radiant Micellar 3 in 1 Cleansing Wipes (R63)
2. Garnier Pure Active Matte Control Anti-Blemish Moisturiser (R100)
3. Eucerin Sun Creme Face Tinted CC Creme SPF 50+ (R221)
Buiten dat die kleurpigmente in die formule jou vel liggies bedek, bevat dit ’n SBF van 50 om jou vel behoorlik teen die son te beskerm.
4. Clarins Ever Matte Mineral Powder Compact (R480)
5. Dermaceutic Advanced Cleanser (R530). By uitsoeksalonne. Besoek www.dermaceutic.co.za
Lees nou
3 van die beste behandelings vir hare
The post Oefen jy met grimering aan? Pasop! appeared first on SARIE.