Charlize Theron in goud vir J’adore … Natalie Portman voor ’n muur rose vir Miss Dior … Parfuums is sensueel en omvou jou in luuksheid die oomblik as jy dit aanspuit.
Maar weet jy wat is ín jou pragtige parfuumbottel? Ons skoonheidspan beantwoord dié 3 vrae waaroor jy nog altyd gewonder het …
Al ooit oor ’n nuwe parfuum gelees en gewonder wat beteken basis- en hartnote, of EDP en EDT? Ons beantwoord dié en ander belangrike vrae sodat jy presies weet waarna om te soek wanneer jy weer in ’n winkel vol parfuumkeuses staan. Omdat ’n geur anders ruik aan elke vrou, is dit immers ’n unieke bykomstigheid om jouself (of ander) mee te bederf. Lees meer in jou parfuumgids…
Dié geur is jou wapen van verleiding
Hoekom is vroue so lief vir parfuum? Dit laat ons mooi voel, sê Tammy Frazer, parfumeur van Kaapstad en eienaar van Frazer Parfum. “Dis ’n manier om jou identiteit uit te druk. Deur jou gunsteling-parfuum aan te wend, verklap jy iets van jouself sonder om ’n woord te sê.”
Wat beteken top-, hart- en basisnote?
Die topnote
Dit bevat die mees vlugtige bestanddele wat die gouste verdamp. Dis gewoonlik sitrusnote (soos nartjie, suurlemoen en pomelo), ligte blomnote (soos freesia en dallelie) en waternote. Dis ook die note wat jy eerste ruik wanneer jy parfuum aanspuit.
Die hart van ’n parfuum
Dit bevat bestanddele wat vir ’n uur of twee langer op jou vel hou. Dis gewoonlik die ryker blomnote (soos roos, soetemaling en ilang-ilang), speserynote (soos naeltjie, kaneel, peper en neutmuskaat) en sommige ligter houtnote.
Die basisnote
Dit vorm die grondslag en bly op jou vel vir tussen vier tot ses uur. Algemene basisnote sluit in houtnote (soos patsjoelie, sandelhout en sederhout), soet note (soos vanielje en tonkaboontjie) en mos-note. Jy ruik dié note eers heelwat later nadat jy die parfuum aangespuit het.
• Helder die kouer maande op met die vrugtige blomgeur Michael Kors Coral (R1 340 vir 100 ml EDP) met topnote van pomelo, lemoen, suurlemoen gekombineer met jasmyn, soetemaling en muskus. Beskikbaar vir ’n beperkte tyd
• Die intense blomnote van katjiepiering, ilang-ilang en frangipani in The Body Shop Polynesian Island Tiaré (R285 vir 50 ml EDT) gee dié geur ’n soet, melkerige geur wat jou herinner aan ’n tropiese seevakansie.
• In die mansgeur Thierry Mugler A*Men Pure Tonka (R1 195 vir 100 ml EDT) word tonkaboontjie met vars laventel en koffie gekombineer vir ’n verleidelike en sensuele geur wat jy net wil aanhou ruik.
Het jy geweet?
Vanjaar is daar 11 kersies op die koek vir die Franse ontwerper Thierry Mugler se ikoniese geur Alien! Amber en kasjmierhout vorm die basis, maar dit is Sambac-jasmyn wat die aandag trek.
Wat beteken EDP, EDT en EDC?
Parfuum bevat verskillende bestanddele, waaronder parfuumolie wat sorg vir die heerlike reuk. Die konsentrasie olie het ’n invloed op hoe sterk jou parfuum ruik en hoe lank dit op jou vel hou.
EDP – staan vir Eau de Parfum en bevat ’n hoër konsentrasie olie as EDT en EDC. Dit is dus sterker en gaan langer hou. EDP is ook gewoonlik duurder as EDT en EDC.
EDT – As jy van ’n ligter parfuum hou, is ’n EDT, oftewel Eau de Toilette, met ’n laer konsentrasie olie ideaal. Dit hou net nie so lank soos EDP op die vel nie.
EDC – (Eau de Cologne) bevat die laagste konsentrasie olie en is ’n baie ligte geur. Omdat dit nie so lank op die vel hou nie is dit heerlik om in die somer te gebruik, want jy kan dit gereeld deur die dag aanspuit.
• Dié nuwe swaarder weergawe van die glansryke vroueparfuum bevat ’n soet basis van agarhout, kasjmierhout en wierook – Azzaro Pour Elle Extréme (R820 vir 75 ml EDP)
• Verbeel jou jy’s in New York met Carolina Herrera CH Central Park (R1 520 vir 100 ml EDT) wat vars note van lemoenbloeisel, meiroos, jasmyn en sederhout bevat. Beskikbaar vir ’n beperkte tyd
• Kardemom, mimosa en soet tonkaboontjie maak Jo Malone Mimosa & Cardamom (R1 480 vir 100 ml EDC) ’n ideale wintergeur vir die dag.
Laat só jou parfuum langer hou
Wat is die nuutste parfuum-tendense?
Op die oomblik is Oosterse geure en roosgeure groot in vroueparfuums.
Oosterse geure
Die parfuumwêreld put tans inspirasie uit die Ooste en agarhout is veral gewild. Dit het ’n diep, sensuele reuk en kom van ’n aromatiese gom wat bome in die genus Aquilaria, inheems aan Suidoos-Asië, afskei. Oosterse geure het tradisioneel ’n sterk en swaar reuk, maar in baie van die nuwe kommersiële geure is dit aangepas sodat dit ’n sagter, “verdunde” weergawe is, geskik vir ’n wyer mark. Onthou om dié geure eerder in die aand aan te spuit omdat dit so sterk en ryk is.
• Sisley Soir d’Orient (R2 850 vir 100 ml EDP) bevat diep Oosterse note soos saffraan, sandelhout en wierook saam met Turkse roos.
• Note van speserye, rum, leer en tonkaboontjie is intens en manlik in Bulgari Man in Black (R1 205 vir 60 ml EDP)
• Die luukse bestanddeel agarhout word in Gucci Intense Oud (R2 155 vir 90 ml EDP) met wierook, leer en amber gekombineer vir ’n warm Oosterse geur vir hom én haar.
Roosgeure
’n Parfuumkenner het eenkeer gesê mans is mal daaroor as ’n vrou ’n roosgeur dra, volgens Charis van den Heever, SARIE se skoonheidsredakteur. Dis omdat dit vir hulle ’n bekende reuk is. ’n Hele aantal roosparfuums is die laaste tyd bekend gestel. Sommige lig en vars, ander effens meer sensueel met ’n kombinasie van swaarder note soos amber en muskus.
• Die luukse Christian Dior La Colle Noire (R3 040 vir 125 ml EDP) bevat geurige meiroos gekombineer met speserye, hout en muskus.
• Die ster-bestanddeel in Dolce & Gabbana Dolce Rosa Excelsa (R1 395 vir 50 ml EDP) is die Afrika-hondsroos. Dié unieke soet geur vorm saam met Turkse roos die hart van dié mooi parfuum.
• Rose word met die soet en sprankelende note van jasmyn en lemoenbloeisel gekombineer in Elie Saab Le Parfum Rose Couture (R1 110 vir 50 ml EDT)
Hiér is nóg roosparfuums waaroor ons mal is!
Geur styg. As jy parfuum op verskillende dele van jou lyf spuit, skep dit ’n aanloklike aura. Moet egter nooit jou polse teen mekaar druk nadat jy parfuum aangespuit het nie, want jy bespoedig die natuurlike ontwikkeling van die parfuum en dan gaan jy baie van die topnote nie ruik nie.
*Dele van dié artikel het oorspronklik in SARIE se Februarie 2014-uitgawe verskyn.
The post Jou parfuumgids: Antwoorde op jou vrae appeared first on SARIE.