Die meeste van ons het letsels, littekens of merke op ons lyf. Maar vir sommiges kan dié merke die selfvertroue ’n knou gee. Studies het getoon dat meer as die helfte van vroue met letsels selfbewus is daaroor, volgens Evolabs, die maatskappy wat die trots SA produk Bio-Oil versprei, in ’n persverklaring. Gelukkig kan jy met die regte sorg die voorkoms van letsels verbeter. Hiér is wenke …
Wat veroorsaak ’n letsel?
Sodra jou vel beskadig word, begin jou liggaam so vinnig moontlik die vel by die wond herstel. As gevolg hiervan word ’n oormaat kollageen in jou vel vervaardig, en dít veroorsaak dat ’n letsel vorm. ’n Letsel kan oor tyd verder genees en vervaag tot ’n permanente litteken op jou vel. Hoe vinnig en doeltreffend jou vel genees, verskil van mens tot mens en word onder meer beïnvloed deur jou gene, jou immuunsisteem en hoe die letsel tydens genesing behandel word.
Hoewel ’n produk nie ’n letsel of litteken heeltemal kan laat verdwyn nie, is daar ’n paar wenke wat jy kan volg om die voorkoms van die letsel te verbeter. Evolabs deel dié wenke:
1. Behandel die letsel so gou moontlik
Hoe gouer jy enige skade aan jou vel doeltreffend begin behandel, hoe beter sal dit herstel. Sodra ’n litteken gevorm het, is dit moeilik om daarna die voorkoms met produkte te verbeter.
2. Bedek en bevog
As jy ’n sny of brandwond opgedoen het, of herstel ná chirurgie, is dit belangrik om die nuwe letsel wat vorm vogtig te hou en te bedek met ’n pleister, sê dr. Nerina Wilkinson, ’n plastiese chirurg van Kaapstad. Dit help om die vel te kalmeer en die genesingsproses te bespoedig. Jy kan bv. ’n paar druppels olie op die pleister drup sodat dit stadigaan deursypel na die letsel.
3. Masseer jou vel
Sodra jou wond genees is, masseer ’n voedende lyfolie of -room vir sowat vier maande soggens en saans met sirkelbewegings in die letsel in, is die raad van John Knowlton, oliekenner en konsultant vir die Bio-Oil-produkreeks. Gereelde massering help om die vel rondom die letsel minder sensitief en meer soepel te maak.
4. Vermy sonblootstelling op die letsel
Die blootstelling van ’n nuwe letsel aan die son se UV-strale kan veroorsaak dat donker vlekke en pigmentasie op die vel vorm. Wend altyd sonskerm met ’n hoë SBF aan jou letsels.
5. Eet gesond
Sluit kos ryk aan vitamien C en sink soos sitrusvrugte, pampoen- en sesamsade, oesters, lam- en beesvleis by jou dieet in. Vitamien C stimuleer die vervaardiging van kollageen, terwyl sink ’n belangrike rol speel tydens die genesing van wonde.
En hoe gemaak met rekmerke?
Dis beter om rekmerke te voorkom as om dit te behandel wanneer dit reeds daar is, sê John. Tieners en swanger vroue is veral geneig om rekmerke te kry omdat vel baie rek wanneer tieners vinnig groei en soos vroue se swangerskap vorder. Omdat olie jou vel elasties hou, voorkom dit dat die vel skeur en ’n merk vorm. Smeer tydens jou puberteitsjare of swangerskap olie aan die dele waar jy gewoonlik rekmerke sou kry, soos jou maag, boude, heupe en borste.
Só behandel die model Chrissy Teigen haar rekmerke …
Probeer dié staatmaker-produkte:
Lees nou
Die 90’s se crimped hare keer terug!
The post Speel só klaar met letsels appeared first on SARIE.