Een van die moeilikste velprobleme om op te los is verstopte porieë. Sowat 60% van die kliënte wat by Colleen Serebro, velsorgkenner en eienaar van die skoonheidsalon Beauty Professionals in Johannesburg, kom aanklop, sukkel met dié uitdaging. Hoewel dit nie moontlik is om heeltemal hiervan ontslae te raak nie, kan jy die voorkoms daarvan verbeter met die regte kennis, sê Colleen. Hiér is vyf dinge wat jy moet weet.
90’s nostalgie: Onthou jy dié kuif?
1. Nee, jou vel is nie vuil nie
Swartkoppies het niks met vuilheid te doen nie. Dit word veroorsaak wanneer sebum (die natuurlike olie wat jou vel afskei) die porieë verstop. Sodra die sebum met lug in aanraking kom, oksideer dit (dit verbind met suurstof) en verkleur swart.
2. Te veel olie is die probleem
Oliekliere in jou porieë skei sebum af wat deur die porie-openinge na jou veloppervlak dreineer om dit te voed. In sommige gevalle vervaardig die kliere te veel olie en verstop die porieë. Moontlike oorsake van oortollige olie-produksie is hormoonskommelinge, jou genetika, erge spanning en sekere medikasie. Mense met ’n olierige veltipe (jy is met hierdie veltipe gebore) sukkel veral met dié probleem.
3. Pasop! Jy kan self die sondaar wees
As jy velsorgprodukte gebruik wat jou vel van sy natuurlike olie stroop, soos sterk reinigers, kompenseer jou vel deur al hoe meer olie te vervaardig. Dít kan lei tot ’n oorproduksie olie. As jou vel styf en droog voel nadat jy dit gewas het, is jou reiniger te aggressief vir jou vel. Die regte (of verkeerde) velsorgprodukte maak dus ’n groot verskil aan die voorkoms van jou vel.
4. Watter velsorgprodukte is veilig om te gebruik?
Kies produkte met die woorde “non-comedogenic” op die verpakking. Dié term beteken die produk sal nie jou porieë verstop nie (in Engels verwys die woord comedo na ’n verstopte porie, vandaar die term). Gebruik ook eerder ’n olievrye onderlaag, ’n vogroom met ’n loperige tekstuur (lotion) pleks van ryk, romerige vogrome en ’n reiniger wat sagkens werk en die pH-balans van jou vel herstel.
5. Moenie jou porieë self skoonmaak nie
As jy self die porieë probeer skoonmaak sonder dat jou vel reg voorberei is, kan jy jou vel beskadig en hiperpigmentasie (donker vlekke) en fyn letsels veroorsaak. ’n Terapeut by ’n skoonheidsalon behoort ’n produk (comedone softener) te gebruik wat die ingang na die porieë versag en dan jou vel te stoom voordat hy/sy die porieë skoonmaak om te verseker jou vel word nie beskadig nie. Besoek ’n goeie skoonheidsalon so een keer ’n maand as jy met dié velprobleem sukkel.
Sukkel jy met volwasse-aknee? Probeer dié produkte!
Leandie help nou mense gewig verloor
The post Moenie dat verstopte porieë jou onderkry nie appeared first on SARIE.