Vir ’n vrou is parfuum koop ’n sensoriese ervaring. Ons wandel deur die geurtoonbanke om soveel moontlik geure te toets en elke bottel fyn te bestudeer. Maar hoe kies ’n man? En hoe kies jy vir die man in jou lewe? Verstaan hoe hy dink en kies vir hom die perfekte geur vir Vadersdag met dié raad en wenke.
Waarna kyk ’n man wanneer hy vir homself ’n geur koop?
Mans word meer beïnvloed deur reklameborde, logo’s en ander advertensie-taktieke en pyl dadelik af op dit wat vir hulle die interessantste lyk, terwyl vroue verkies om rustig na elke parfuum te kyk en daaraan te ruik, sê Max Priebatsch, handelsmerkbestuurder van die skoonheidshuis P&G Prestige se parfuumafdeling. ’n Man probeer óók ’n parfuum op sy vel voor hy dit koop, maar vra meer gereeld raad vir verkoopskonsultante as ’n vrou sodat hy vinniger ’n besluit kan neem.
Hoe kies hy?
“Daar is nie data wat dit bewys nie, maar ek glo ’n man kies ’n geur volgens sy persoonlikheid,” sê Max. Sportiewe mans neig byvoorbeeld na ’n parfuum as die advertensie daarvoor baie sportief is, of as die woord “sport” op die etiket is, terwyl ’n metroman hou van modegeure met ’n luukse gevoel en ’n luukse advertensie.
Eksperimenteer hy?
Beslis! Mans is nie bang om nuwe bekendstellings te probeer nie, maar die klassieke geure van ’n handelsmerk bly die topverkopers. Mans neig om terug te keer na hul ou gunstelinge.
Kies só ’n geur vir hom:
1. Kies volgens sy persoonlikheid.
2. Doen navorsing oor die geurfamilie waarin sy huidige geur is bv. ’n hout- Oosterse of sitrusgeur, en koop iets soortgelyks.
3. Baie parfuumhandelsmerke het seep en rome in die reeks en as hy dié produkte ook gebruik, hou die geur langer op sy vel.
4. Kyk ook na die gesig wat ’n parfuum verkoop en of die leefstyl wat dit verteenwoordig by hom pas …
Die geur van ’n mansparfuum is dalk verleidelik, maar die gesig wat ’n spesifieke parfuum verteenwoordig, speel net so ’n groot rol in die verkope daarvan, sê Nicola Cooper, ’n tendens-ontleder van Johannesburg. “Bekendes en sportsterre het nog altyd die verkope van mansparfuums aangehelp. Hulle beeld ’n aspirerende leefstyl uit wat ander mans aanloklik vind.” En wanneer die man op straat dan die parfuum koop, koop hulle daarmee saam ’n stukkie van dié leefstyl.
@Ian Somerhalder deep in thought #AzzaroPourHomme #Azzaro #perfume #fragrance Photo @JeanPicon A photo posted by Loris AZZARO (@azzaro_official) on
Probeer dié geur-gunstelinge vir mans:
Gedeeltes van dié artikel is geskryf deur Liesl du Toit en het oorspronklik in SARIE se Junie 2014-uitgawe verskyn.
Lees nou
Drink dié drankies vir die mooiste vel!
The post Kies so vir hom ’n geur dié Vadersdag appeared first on SARIE.