Droogheid is een van vroue se grootste velsorgkwessies. Nou is daar ’n nuwe sterproduk in die skoonheidswêreld wat lewe aan ’n vaal vel gee: ’n essens.
Waar het essens ontstaan?
Koreaanse vroue neem hul velsorg baie ernstig op. In Suid-Korea bestaan die gemiddelde vrou se velsorgroetine soggens én saans uit tot tien stappe! Omdat skoonheid so ’n reuse-bedryf in dié land is, is hulle bekend vir hul nuwe, innoverende produkte, en wêreldwyd word na hul skoonheidsbedryf as “K-Beauty” verwys. Dit is dus geen verrassing dat essens sy oorsprong hier het nie. Boonop word dit beskou as een van hul belangrikste skoonheidsprodukte.
Wat is ’n essens?
’n Essens het ’n waterige tekstuur en is hoofsaaklik ontwikkel om jou vel te hidreer, sê Meagan Africa, nasionale opleidingsbestuurder van die luukse velsorghuis La Mer. Omdat die formule superlig is, absorbeer dit dieper in jou vel as bv. ’n vogroom.
Maar is dit nie dieselfde as ’n verfrisser (toner) nie?
Hoewel ’n verfrisser en essens ’n soortgelyke tekstuur het, is elkeen se doel verskillend, sê Meagan. “Jy gebruik ’n verfrisser nadat jy jou vel gereinig het om van enige oorblywende vuiligheid ontslae te raak en om jou vel se pH te balanseer. Dit sorg dus dat jou vel superskoon is. Daarenteen wend jy ’n essens ná jou verfrisser aan om jou vel te hidreer,” sê sy.
Wat is die verskil tussen ’n essens en ’n serum?
’n Serum se tekstuur is effens swaarder en dit bevat allerlei aktiewe bestanddele wat spesifieke velsorgkwessies soos donker vlekke, lyntjies, ’n vaal vel, ens. takel, sê Meagan. Hoewel ’n essens ook aktiewe bestanddele kan bevat, is dit nie so gekonsentreerd soos in ’n serum nie.
Hoekom ’n essens gebruik as jy in elk geval ’n vogroom gebruik?
Die meeste vogrome is ontwikkel vir ’n spesifieke veltipe. As jy bv. ’n kombinasie-veltipe het, sal jy hiervolgens ’n vogroom kies. Enigiemand van enige ouderdom kan ’n essens gebruik. Dit gee jou vel bloot ’n ekstra vog-inspuiting – iets wat ons almal broodnodig het in die moderne lewe, want besoedeling, lugversorging, hitte en droë lug is almal sondaars wat jou vel van vog stroop. ’n Vel wat goed gehidreer is, is ’n gesonder vel.
Hoe gebruik ek dit?
Jy kan ’n paar druppels in die palm van jou hande gooi en dit dan liggies op jou vel tik of die produk oor jou vel spuit en dit daarna liggies in jou vel druk. Gebruik dit daagliks, winter en somer.
Probeer:
Lees Nou
7 maniere om jou hare vinniger te laat groei
The post Die nuwe antwoord vir ’n droë vel appeared first on SARIE.