Die estetiese bedryf in Suid-Afrika floreer, want vroue is lankal nie meer bang om nuwe, innoverende behandelings te beproef nie. Met soveel keuses, waar begin jy? Ons het met Clare Wiese-Wentzel, leefstylblogger en dogter van SA se rykste man, Christo Wiese, oor haar gunsteling-behandelings gesels.
Die 34-jarige Clare bied vanaf Oktober vanjaar haar eie mooimaakreeks genaamd Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel op kykNET aan. In die reeks neem sy en ’n span deskundiges deelnemers op ’n volledige mooimaak-reis wat die jongste nie-chirurgiese estetiese behandelings insluit. Sy wil SA vroue inlig oor dié tipe behandelings en terapieë.
“Baie vroue dink buiten chirurgie is die enigste opsies vir jonger lyk botoks en vullers: twee behandelings wat volgens my te maklik aanbeveel en gebruik word. Daar is soveel ander fantastiese behandelings wat jou vel dieper behandel om natuurlike vernuwingsprosesse te bevorder en die vervaardiging van nuwe kollageen ’n hupstoot te gee.”
Clare glo ook in voorsorg. “Dis meer doeltreffend om jaarliks te gaan vir ’n behandeling wat jou vel se gesondheid onderhou as om tien jaar te wag en dan angsbevange iets drasties te doen om die tekens van veroudering te probeer terugdraai.”
Hiér deel Clare van haar top-behandelings:
Fraxel-laserbehandeling
Wat is dit?
Fraxel behels dat fyn gekontroleerde laserstrale die boonste laag van jou vel penetreer. Die hitte-energie wat gegenereer word, stimuleer dan jou vel se natuurlike herstelprosesse om nuwe gesonde kollageen te vervaardig. Dit skilfer ook die boonste laag van jou vel af vir ’n helder gelaat.
Só sê Clare:
Ek’s mal oor ’n fraksionele laserbehandeling omdat dit ’n magdom velkwessies (soos fyn lyntjies, plooie, vergrote porieë, ’n onegalige veltekstuur en pigmentasie) behandel. Hoewel die behandeling self effens ongemaklik en pynlik is en my vel ’n kort tydjie daarna rooi, sensitief en grof voel (amper soos skuurpapier), is die resultate fantasties. Op die oomblik gaan ek net vir ’n fraksionele laserbehandeling sowat ’n maand of twee vóór ’n belangrike geleentheid, soos met my verjaardag of voor my troudag verlede jaar.
Prys: Sowat R4 500 per behandeling. Besoek www.skinrenewal.co.za.
Naaldlose mesoterapie
Wat is dit?
Dié behandeling behels die gebruik van ’n toestel om spesifieke aktiewe bestanddele deur middel van drukking in jou vel in te “skiet”, op plekke waar dit nodig is. Met elke skiet-aksie versprei die produk deur jou vel. Tekens van veroudering, dehidrasie, pigmentasie of selluliet kan so behandel word.
Só sê Clare:
Ek hou daarvan om te gaan vir naaldlose mesoterapie met hialuronsuur. Dit laat my vel onmiddellik bevog voel en gesond, plomp en helder lyk. Ek ervaar geen pyn nie en daar is ook geen hersteltyd nodig nie. Dis perfek vir wanneer jy daardie “J-Lo glow” wil hê.
Prys: Sowat R715 per sessie. Besoek www.skinrenewal.co.za.
Draadjies en tandbleiking
Só sê Clare:
Ek is nogal fanaties oor tande! Hoewel dit nie die mees moderne behandeling vir tande is nie, het ek al twee keer draadjies gehad. Dit het vir my ’n reuse-verskil gemaak om met selfvertroue te kan glimlag, veral omdat ek baie skewe tande gehad het toe ek jonger was. Ek gaan ook gereeld vir ’n vinnige professionele tandbleikbehandeling. Dit laat jou sommer vyf jaar jonger lyk.
Besoek www.jjteeth.co.za.
Lees nou
Kan dié warm drankie help vir ’n probleemvel?
Die seisoen se 3 grootste haarkleur-modes
The post Clare Wiese-Wentzel deel haar top- estetiese behandelings appeared first on SARIE.