Op die rooi tapyt verskyn aktrises en sangeresse gereeld met ’n bos glansende hare. Maar dít is dikwels nie die lokke waarmee Moeder Natuur hulle geseën het nie. En dis niks om oor skaam te wees nie! Ons het met TV-aanbieder Elma Smit gesels oor haar ervaring met haarverlengings.
Vroue het nou meer as ooit tevore pret met hul hare, danksy ’n verskeidenheid produkte wat ontwikkel is om jou hare voller en langer te laat lyk waarmee jy kan eksperimenteer. Een van dié opsies is haarverlengings.
Elma word al byna gekenmerk aan haar lang, welige blonde hare. Sy is egter nog altyd eerlik daaroor dat dit te danke is aan die wonder van haarverlengings. “Ek het van nature nog altyd dun hare en, maak nie saak hoe mooi ek dit behandel nie, dit wil net nie langer as skouerlengte groei nie.”
Sy het reeds tien jaar gelede die eerste keer haarverlengings gekry op aandrang van die vervaardigers van Studio 1, ’n TV-program op die voormalige plaaslike musiekkanaal MK, wat sy destyds aangebied het. Sedertien dra sy aan en af haarverlengings, gewoonlik na gelang van die soort program wat sy aanbied. “Vir my is dit nie veel anders as om my hare te laat kleur nie.” En hoekom dit wegsteek? “Ons is mos nie skaam om te erken dat ons van rooi lipstiffie hou nie, hoekom is ons dan skaam vir die feit dat ons ’n hupstoot in die haarafdeling ook nodig het?”
Wie sal daarvan hou?
Haarverlengings is ideaal as jy jou eie hare voller of langer wil laat lyk, het Candice Thurston, stigter en uitvoerende direkteur van die haarsalon Candi & Co verlede jaar in ’n onderhoud aan SARIE gesê. Dié salon spesialiseer in haarverlengings en pruike.
Candice stel verlengings wat aanplak (tape-ins) of aanknip (clip-ins) voor omdat dit jou eie hare die minste beskadig (verlengings wat aan jou hare gegom of met ’n mikroringetjie vasgeheg word, is ook beskikbaar). Aanplak-verlengings het ’n strokie wat bo-oor jou eie hare by die wortels geplak word en weer met alkohol verwyder word. Dit hou sowat twee tot drie weke. Aanknip-verlengings het ’n kammetjie wat in jou hare glip. Jy kan dit insit en uithaal soos jy wil. Dié tipe verlengings kan egter soms te swaar voel vir vroue met fyn hare, sê Candice.
Is dit die moeite werd?
Elma verduidelik dat haarverlengings dikwels ekstra moeite, onderhoud en stilering verg. “Die tekstuur van die haarverlengings wat ek laat insit verskil byvoorbeeld van dié van my natuurlike hare. Daarom moet ek gewoonlik ’n bietjie langer in die haarsalon sit elke keer wanneer ek verlengings laat insit of daaraan laat verstel. Tog is dit vreeslik lekker om skielik van dun, kort hare na dik, welige lang hare te gaan.”
Dié plaaslike bekendes is ook lief vir haarverlengings:
Angelique Gerber Potgieter
Leandie du Randt Bosch
Karlien van Jaarsveld
Simoné Nortmann
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na info@candiandco.co.za of besoek www.candiandco.co.za.
Lees nou
Studie onthul vroue hou meer van mans met baarde
Dié haarstyl oorheers die Cannes-rooitapyt
The post Elma Smit gesels oor haar hare-hupstoot appeared first on SARIE.