Om vir vroue te vra of hul van ’n man met ’n lang, rowwe baard hou, of verkies dat hy netjies skoon geskeer is, gaan beslis gemengde reaksies ontlok. Maar volgens ’n onlangse studie wil dit lyk asof die skoner geslag inderdaad eerder ’n man met ‘n baard verkies.
Navorsers van die Universiteit van Queensland in Brisbane, Australië het bevind dat vroue oor die algemeen mans met baarde meer aantreklik vind, berig die New York Times aanlyn. Vir die studie, waaraan meer as 8 000 vroue deelgeneem het, is deelnemers foto’s van mans met verskillende lengte baarde gewys – van skoon geskeer, ’n ligte en swaar stoppel tot ’n vol baard – waarna hulle verskeie vrae oor die mans se aantreklikheid moes beantwoord.
Dis bevind dat die deelnemers oor die algemeen gedink het dat die mans met swaar stoppelbaarde die sexyste is. Daarby het die vroue ook gedink dat mans met ’n vol baard die beste lewensmaats sou maak.
Stem jy saam met dié interessante bevindinge?
Die afgelope paar jaar verkies al hoe meer mans om ’n goedversorgde vol baard te dra. Soveel so dat baie mans wat sukkel om ’n baard te groei al hoe meer vir baardhaar-oorplantings gaan, berig die New York Times. Volgens die International Society of Hair Restoration Surgery was die hoeveelheid mans wêreldwyd wat in 2012 ’n baardhaar-oorplanting ondergaan het sowat 4 000. En net twee jaar later, in 2014, het dié hoeveelheid na meer as 13 900 mans gespring.
Sorg vir jou baard
“’n Baard se gewildheid het nog altyd gekom en gegaan, maar deesdae word dit as ’n klassieke voorkoms gesien, byna soos die bob-haarstyl vir vroue,” sê ons eie Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale redakteur. Of die man in jou lewe van ’n lang, vol baard hou of ’n kort, netjiese een, die versorging daarvan is belangrik.
Hier is ’n paar wenke van Fanie wat jy met hom kan deel:
1.Groei dit reg
Jou baard moenie op jou kakebeenlyn eindig nie, want anders lyk dit asof jy ’n dubbelken het. Laat groei dit tot sowat vier sentimeter onder jou kakebeenlyn en gebruik skeerjel om die res van jou nekgedeelte skoon te skeer. Wend agterna ’n skeerbalsem (balm) aan om rooi knoppies te voorkom.
2.Was jou baard
Was jou baard soggens en saans met ’n baardseep en masseer daarna ’n baardbalsem of –room in. Dit voorkom ’n jeukerige vel. Kyk uit vir bestanddele soos amandel-, klapper- en teeboom-olie (dié olie is antibakteries).
3.Voed met ’n baardolie
Vryf dan ʼn baardolie van die wortels van jou baardhare opwaarts in. ’n Olie bevogtig jou baard en hou die hare sag. Kam laastens jou baard in plek met ’n baardborseltjie.
Ons is mal oor dié bekendes se baarde:
Armand Aucamp
Ivan Botha
Ryan Gosling
Jamie Dornan
Jake Gyllenhaal
Wat dink jy?
Bronne: www.nytimes.com, www.ehbonline.org
Lees nou
Dié haarstyl oorheers die Cannes-rooitapyt
The post Vroue dink mans met baarde is meer aantreklik, onthul studie appeared first on SARIE.