Sofía Vergara, Jennifer Aniston, Reese Witherspoon … dié drie aktrises lyk altyd jeugdig en stralend op die rooi tapyt. Maar hoe kry hulle dit reg? Met ’n paar slim grimeertruuks is dit makliker as wat jy dink.
1. Verruil jou onderlaagborsel vir ’n grimeersponsie
Onderlaag wat streperig en aangeplak lyk, kan jare by jou voorkoms voeg. Volg die raad van talle bekendes en grimeerkunstenaars en verruil jou onderlaagborsel vir ’n grimeersponsie.
Die meeste grimeersponsies is gemaak van hidrofiliese sponsmateriaal waarmee jy jou onderlaag foutloos aanwend sodat jou vel goed bedek is, terwyl dit steeds lyk asof jou vel onder die onderlaag “deurskyn” sonder ’n streep in sig. Boonop laat dit onderlaag langer op jou vel hou.
2. “Lig” jou wange met blos
Ons vel verloor fermheid soos ons ouer word. Gebruik blosser om die illusie van fermer vel te skep. Pleks daarvan dat jy blosser op die appels van jou wange aanwend, wend dit net onder jou wangbene aan en skakeer dit opwaarts tot by jou slape. Jy kan ook jou blosser baie liggies reg rondom die onderkant van jou kakebeen skakeer. Dit sal jou gesig meer gelig laat lyk.
3. Wend ’n basislaag aan jou ooglede
’n Oogskadu-basislaag (eyeshadow primer) voel dalk soos ’n onnodige ekstra, maar net ’n tikkie op jou ooglede voor jy oogskadu aanwend kan ’n groot verskil maak. Veral as jy fyn lyntjies en plooie rondom jou oë het. Oogskadu-poeier gaan lê dikwels in dié lyntjies wat dit meer opsigtelik maak. ’n Oogskadu-basislaag vul die lyntjies liggies in en laat ook jou oogskadu langer hou en vars lyk.
4. Kies bruin oogomlyner pleks van swart
Swart is perfek vir ’n dramatiese en grafiese oogomlyner-voorkoms wat aandag trek. Tog kan dié kleur dikwels jou oë kleiner en meer ingesonke laat lyk, veral wanneer jy dit in die dag dra. Dit trek ook die aandag na fyn lyntjies en plooie rondom jou oë.
Talle bekendes soos Sofía Vergara en Olivia Wilde gebruik daarom ’n bruin omlyner om hul oë subtiele definisie te gee en effens rokerig te laat lyk. Dit sorg ook vir ’n meer natuurlike en moeitelose dog gesofistikeerde voorkoms.
5. Kyk uit vir lengthening maskara
Jou wimpers raak dunner soos wat jy ouer word, het die Amerikaanse tydskrif Allure onlangs aanlyn berig. Swaar maskara-formules kan dan jou wimper maklik plat laat lyk. Kyk uit vir ’n maskara wat lengte en volume gee en ’n dun borseltjie met kort, eweredig verspreide haartjies het. Die borsel tel net genoeg maskara op en kan tot teenaan jou ooglid bykom sodat die maskara die volle lengte van jou wimpers bedek.
6. Vermy poeier
Baie van ons tik ’n deursigtige poeier aan om ons grimering te set. Maar dit kan jou ouer en aangeplak laat lyk omdat die fyn poeierdeeltjies dikwels in die lyntjies of plooie op jou vel gaan lê. Dit droog ook jou vel vinniger uit.
Die oplossing? Gesigsproei. Buiten dat ’n gesigsproei jou vel deur die dag verfris en bevog, help dit ook om jou grimering vars te hou en oortollige olie te absorbeer. En as jou vel bevog is, lyk jou grimering net mooier.
Bronne: www.allure.com, www.harpersbazaar.com
Lees nou
Nataniël maak konsert vir goeie doel
VIDEO: Kry dikker wenkbroue met ’n koekieseep!
The post 6 grimeertruuks vir jonger lyk appeared first on SARIE.