Dié wat daarvan hou om saans op ’n satyn-kussingsloop te slaap gló daarin. Vir baie aanhangers is dít juis hul geheim tot ’n sysagte vel en ’n glansende, gesonde kroon. Maar maak dit rêrig so ’n groot verskil as jy bloot jou katoen-sloop vir een van sy verruil?

FOTO: Unsplash / nomao saeki
Hoewel ’n sy- of satyn-kussingsloop jou nie oornag gaan laat jonger lyk nie, glo die SARIE-skoonheidspan dat dié eenvoudige kop(kussing)skuif wel ’n paar voordele vir jou vel en hare kan inhou …
’n Vogtige vel
Die vesels van sy- en satynstowwe absorbeer minder vog as dié van materiale wat hoofsaaklik van katoen gemaak word. Daarom sal daar minder vog uit jou vel getrek word, veral as jy geneig is om op jou maag of sy te slaap. En ’n goed bevogte vel is ’n gesonde vel.
Vir sensitiewe vel
Sy- en satyndraadjies word stywer en nader aan mekaar geweef as dié van die meeste katoenmateriale vir beddegoed. Die kans dat mikroskopiese deeltjies stof, bakterieë en onsuiwerhede tussen die draadjies vasgevang word, is daarom kleiner. Dit kan byvoorbeeld ’n geneigdheid tot ’n veluitslag verminder.
Dis sysag
Ons almal ken die luukse sagte tekstuur van sy en satyn. Wanneer jy in jou slaap beweeg, help dié tekstuur dat jou vel oor die kussingsloop gly pleks daarvan dat dit oor die materiaal skuur. Só kan ’n sy- of satyn-kussingsloop rooiheid en ’n growwe veltekstuur verminder.
Hare wat blink
’n Kussingsloop van sy of satyn hou boonop dieselfde voordele vir jou hare as vir jou gesig in. Wanneer jy beweeg, gly jou hare makliker oor die sagte tekstuur van sy as oor die effens growwer tekstuur van katoenbeddegoed. Omdat daar dan minder wrywing op jou hare is, kan dit gesplete punte en die hoeveelheid hare wat breek verminder. Daar word ook minder vog uit jou hare getrek en dít kan kroeserigheid en statiese hare verminder, veral tydens die droë wintermaande.
Dit voel sag en luuks
Enigiemand wat al op ’n sy- of satyn-kussingsloop geslaap het, sal weet dit vóél net lekker en luuks! Wie wil dan nie soggens op ’n koel, sagte satyn-kussingsloop wakker word nie?
Raai wat? Kim Kardashian was haar hare een keer in 4 dae!
Die verskil tussen ’n kussingsloop van sy en een van satyn?
Egte sy-vesels kom van sywurms en word op ’n spesifieke manier saamgeweef om ’n materiaal te vorm. ’n Kussingsloop van egte sy sal daarom duurder en skaarser wees. Satynmateriaal word op dieselfde manier as sy geweef, maar kan uit ’n mengsel van natuurlike en sintetiese vesels bestaan. Dié kussingslope sal goedkoper wees.
*Kry jou satyn-kussingsloop plaaslik by www.deerdear.co.za.
Love is … a @hellodeardeer satin pillow slip! pic.twitter.com/KTyyQVBSlq
— Dear Deer (@hellodeardeer) February 3, 2015
Wat dink jy?
Bronne: www.huffingtonpost.ca, www.thebeautybrains.com, www.marieclaire.com, www.lovasilk.com, www.instyle.com
Jou eerste spyskaart vir #SARIESondag
The post Satyn-kussingslope hou jou jonk appeared first on SARIE.